Please refer to Part 1 to follow me on the unpacking of the message: “If…

Psigiese Ondervoeding
Die beeld wat by my opkom, is dié van iemand met Kwashiorkor.
Dit is ’n ernstige vorm van ondervoeding wat veral voorkom wanneer ’n liggaam genoeg kalorieë inkry, maar ’n tekort het aan proteïene. Die liggaam lyk dan misleidend: geswelde maag, opgeblase gesig, dun arms en bene. Aan die buitekant lyk dit of daar “genoeg” is, maar aan die binnekant is daar ’n diep tekort. Die liggaam begin afbreek, al lyk dit nie altyd so nie.
En dit laat my wonder hoeveel mense vandag psigies aan Kwashiorkor ly.
Daar is mense wat voortdurend gee.
Sommige gee emosioneel en prakties, doen die aankope, ry heen en weer, maak kos, ruim op.
Ander gee deur te voorsien, finansieel te dra, vooruit te dink, vakansies te beplan, verantwoordelikheid te neem, sekerheid te skep.
Hulle hou dinge aan die gang.
Hulle hou balle in die lug.
Maar hulle eie “dieet” van waardering, erkenning, trots en liefde is skraal.
“Ek voel ek gee net en gee, en ek kry niks terug nie.”
“Ek wil net ook ’n bietjie spesiaal voel.”
“Hulle waardeer my nie, ek is net hier om iets vir ander te doen.”
“Dis my werk om almal gelukkig te hou. Hulle sê nie eers dankie nie. Wat is my nut dan?”
Hierdie woorde het ek veral baie in 2025 gehoor, dikwels teen die einde van die jaar, wanneer mense moeg, oorlaai en emosioneel uitgeput is, wanneer die liggaam nog aanhou funksioneer, maar die psige begin swel van onvervulde behoeftes.
Psigiese ondervoeding raak nie net hoe jy voel nie; dit raak wie jy dink jy is.
Dan is dit nodig om tot stilstand te kom en te vra:
Wat het gemaak dat my identiteit só verbind geraak het aan gee?
Wat gebeur binne my as ek nie raakgesien word nie?
Watter skuiwe kan ek in myself maak, eerder as net nog harder te probeer?
Maar hierdie gesprek is nie net vir dié wat uitgeput is nie.
Dit is ook vir dié wat ontvang.
Is daar iemand in jou lewe wat goed doen wat jy kón of móés doen?
Iemand wat emosioneel dra, prakties help, finansieel voorsien of voortdurend vooruit beplan?
Iemand wat iets van jou “vang”?
Iemand wat een van jou balle in die lug hou?
Dit maak nie saak of daardie persoon meer tyd het nie.
Dit maak nie saak watter rol daardie persoon speel nie.
Daardie persoon doen iets vir jou.
Daardie persoon dra saam.
Is jy genoeg bewus daarvan, en wys jy jou waardering gereeld? Dit hoef nie groot gebare te wees nie, dit kan ’n blommetjie uit die tuin wees, om iets te onthou wat vir daardie persoon belangrik is, of om jou waardering duidelik met woorde te kommunikeer.
Daardie persoon het nodig om te voel dat dit nie sy of haar plig is nie, want dit is nie.
Niemand is veronderstel om alleen skoon te maak, op te ruim, te reël, vooruit te beplan of emosioneel te dra waar jy ook is nie.
Moenie dink dat inkomste, verantwoordelikheid of “dis maar my rol” iemand vrykoop van dankbaarheid nie.
Moenie iemand wat gee soos ’n slaaf laat voel nie.
Laat daardie persoon weet wat hulle vir jou beteken.
Laat daardie persoon voel soos ’n held.
Of selfs soos ’n koning.

